Die Gevare Van Mede-Eienaarskap (refer Sanlam Trust)

Distracted driver behaviour
January 22, 2015
The Dangers of Co-Ownership (refer Sanlam Trust)
January 22, 2015

Die Gevare Van Mede-Eienaarskap (refer Sanlam Trust)

DIE GEVARE VAN MEDE-EIENAARSKAP
Artikel geskryf deur Clive Hill, Regsadviseur, Sanlam Trust

Baie sakepersone staan in besigheidsvennootskappe en is op hoogte van hulle regte en verpligtinge teenoor hulle vennote. Almal is egter nie vertroud met die regte en verpligtinge wat uit die mede-eienaarskap van ʼn bate voortspruit nie, soos deur ʼn onlangse hofsaak gedemonstreer word.¹

Sakepersone moet nie aanvaar dat hulle, bloot omdat hulle ʼn aandeel van ʼn bate saam met ʼn ander mede-eienaar of –eienaars besit, die gewone vennootskapsbeginsels op hierdie situasie kan toepas nie. In die aanloop tot die hofsaak het een mede-eienaar ʼn groot deel van die uitgawes met betrekking tot die aankoop en instandhouding van onroerende goedere gedek, insluitende die verbandterugbetalings, onderhoud en munisipale heffings. Toe hy uiteindelik daarby uitkom om hierdie uitgawes van die ander eienaar terug te eis, is sy eis met die verdediging van verjaring begroet.

Verjaring is ʼn verdediging wat ʼn persoon van wie ʼn bedrag geld (of ander spesifiek prestasie) geëis word, kan gebruik om sodanige eis teen te staan. Die Wet op Verjaring van 1969 stel verskillende tydperke vir die verjaring van skuld of eise vas. Die verstektydperk is 3 jaar, tensy ʼn ander tydperk gespesifiseer word. Een voorbeeld is waar die krediteur en die debiteur vennote is, en die skuld uit daardie verhouding ontstaan het. Die Wet bepaal dat die skuld nie sal verjaar voordat ʼn tydperk van een jaar na die ontbinding of beëindiging van die vennootskap verstryk het nie. Die onderliggende rede hiervoor blyk te vloei uit die aard van die vennootskapsverhouding, waarbinne vennote dikwels mekaar probeer help deur die bydrae van geld, of vaardighede, of bates tot die onderneming. Dit is dus belangrik om ʼn verhouding as hetsy mede-eienaarskap of vennootskap te klassifiseer vir die instel van eise.

Die hofsaak verwys na die volgende onderskeidende kenmerke van ʼn vennootskap:

ʼn Vennootskap spruit uit ʼn ooreenkoms tussen partye.
Dit behels gemeenskaplike wins en verlies.
ʼn Vennoot kan nie sy of haar belang by die vennootskapseiendom in gesamentlike besit eensydig verkoop nie.
Een vennoot is ʼn agent van die ander vennoot/vennote.
ʼn Vennootskap het die maak van wins as grondliggende beginsel.

Indien die aard van die verhouding nie die kenmerke van ʼn vennootskap toon nie, maar twee of meer mense ʼn bate gesamentlik besit, is hulle verhouding dan een van mede-eienaarskap. Mense kan mede-eienaars word sonder om ʼn ooreenkoms aan te gaan. Byvoorbeeld, indien twee erfgename dieselfde eiendom in gelyke dele erf, sal hulle dit gesamentlik in onverdeelde aandele besit. Indien twee mense saam ʼn eiendom koop, en daar is geen daaropvolgende ooreenkoms om dit as huur-inkomste te verhuur, of vir kapitaalwins te verkoop nie, is hulle nie vennote nie, maar mede-eienaars. Een mede-eienaar kan sy of haar aandeel in die eiendom sonder die toestemming van die ander verkoop en tree nie as die agent van die ander op nie. Indien een van hulle meer as die helfte van die uitgawes dek, het hy/sy 3 jaar om terugbetaling te eis; anders kan die verdediging van verjaring geopper word. Indien die mede-eienaars ook vennote in ʼn onderneming met winsbejag is, sal hulle eise teen mekaar nie verjaar voor die verstryking van een jaar na die beëindiging van die vennootskap nie.

Die dokumentering van elke party se verwagtinge in ʼn kontrak is gewoonlik die beste (en goedkoopste) manier om seker te maak dat daar geen misverstande is nie. Gegewe die tydsdruk waaronder sakepersone werk, is dit nie altyd die maklikste roete nie. ʼn Oproep na jou professionele of fidusiêre adviseur is ʼn goeie eerste tree op die pad na gemoedsrus.